Geskiedenis
’n Reis deur tyd: Van die droom in 1995 tot die stewige fondament van vandag.
Die Droom Begin
Die geskiedenis begin met ’n groep graad 7-ouers wat die behoefte gehad het dat hulle kinders in hulle huistaal en volgens Christelike waardes moet skoolgaan. Onder leiding van mnr. Dawie O’Callaghan vergader die groep in die NG Kerkgebou en besluit om in 1996 met 'n graad 8-klas te begin.
Die Eerste Skooldag
Op 16 Januarie open ds. Samuel Louw die eerste akademiese skooljaar. Die skool bestaan uit 19 Gr. 8-leerlinge (by mev. Martie Esterhuyse) en ’n Gr. R-klas met 15 leerlinge (by tannie Heilie Greeff). Die Noordhoek NG gemeente se katkisasieklassies is gebruik as lokale.
Amptelike Opening en Pret
Op 29 Februarie word die skool amptelik as geregistreerde privaatskool geopen deur ds. Callie Opperman (van NAPSO). Daar was ook baie pret: omdat daar geen seniors was nie, het die onderwysers en ouers self die graad 8's "gedoop"!
Vinnige Uitbreiding
Die skool brei uit om leerders van graad 1–10 te akkommodeer weens die groot behoefte. Nuwe klasse is oorkant die straat gebou terwyl die skool voortgegaan het tussen sementmengers en sonder plafonne. Die koshuis groei tot 36 leerlinge onder leiding van matrone Heilie Greef, en mnr. en mev. Erasmus.
Koshuislewe
Koshuisgetalle verdubbel. Spasie was min en kinders moes op stapelbeddens slaap. Ten spyte van die beknopte spasie en vele huistakies, was die koshuislewe groot pret.
Eerste Leiers en Matrieks
Die eerste leerlingraad doen diens (MG as hoofseun, CF as hoofdogter). KPS hou sy eerste matriekafskeid met die tema "Hemel". Die eerste matrieks skryf die IEB-eindeksamen in juffrou Patrys se sitkamer.
Die Eeuwending
Die skool is nou gevestig. Die graad 8's van 1996 is in matriek. Hulle is die eerste groep wat 'n volwaardige "40 days" hou. Charmaine Blaauw word aangewys as KPS se heel eerste graad 12 Dux-leerling.
Die sirkus besoek Keetmanshoop
Van graad eentjies tot matrieks span elkeen saam om die sirkus na Keetmanshoop te bring.
KPS hou karnaval
Eerste Dekade
KPS vier die eerste dekade met vlotte en ’n optog deur die dorp!
Spoggerige kuns
Hardus Louwrens (graad 1) se kunswerk pryk vir die eerste keer in Santam se bekende Kinder- kuns kalender
PSN 2010
KPS bied PSN aan vir die eerste keer en slaan die gaste se asem weg by die opening van PSN 2010.
Idiomestryd
KPS tree as wenners uit die ATKV Idiomestryd.
Redenaars
KPS lewer ’n dubbeldoor Namibiese redenaarswenners.
Science Fair
John Roux Foster verower ’n goue toekenning tydens die National Science Fair. Sy projek wen ook die kategorie vir Ingenieurs & Argitektuur.
Nuwe Koshuis
Die bou van die Arendsnes-koshuis het in 2015 afgeskop. Hierdie opwindende projek het die fondasie gelê vir 'n veilige tuiste waar leerders vandag gerieflik op die skoolterrein kan floreer.
Koshuis maak sy deure oop
Die droom van 'n moderne koshuis op die skoolterrein word werklikheid. Op 28 Oktober 2016 is Arendsnes amptelik geopen – 'n veilige en gerieflike tuiste vir ons leerders.
Kultuurfees
By die 2017 Napso Kultuurfees het 8 KPS leerlinge deelgeneem aan die openbare optredes en 13 leerlinge aan die kunsafdeling. KPS kom huis toe met 7 eerste plekke, 4 tweede plekke en 2 derde plek.
Besonderse Boogskiet prestasie
Gerhard Koen het Namibië in Suid-Afrika verteenwoordig. Hy het goud gewen in die individuele "Bulls Eye"-, 3D- en algehele afdelings vir die Ontwikkelingspan en die trofee as die Ontwikkelingspan-kampioen ontvang. Daarna het hy Nasionale kleure vir Namibia gekry en na Kanada gereis vir 'n internasionale kompitiese waar Namibië 3rde behaal het tussen ander lande.
Droogte Hulp
Michelle Fourie, oudleerling van KPS, het voorgestel dat KPS ander skole uitdaag om deel te wees van ‘n grootse poging om die boere wat vanweë die voortslepende droogte swaarkry by te staan. Alle skole in die land is uitgedaag om elk ‘n muntlegging te reël en die opbrengs te skenk aan Namibië Droogtehulpskema.
Eerste Verbruikerstudie Eksamen
Sedert 2018 bied KPS die keusevak Verbruikerstudie aan. Die vak kombineer teoriekennis met ’n praktiese komponent – en hulle maak boetie-kom-kyk disse in die prakties! KPS is die enigste skool in Namibië wat hierdie vak aanbied. Op 3 November 2020 lȇ die eerste KPS matriekgroep in die vak hulle IEB-eindeksamen af.
Besonderse Hokkie prestasie
Die dogtershokkiespan behaal groot sukses en word as kampioene van die NSSU 3de Liga gekroon. Hierdie oorwinning is 'n bewys van hul harde werk, goeie afrigting en onwrikbare spangees.
Landboubestuurspraktyk
KPS brei sy vakkeuse uit met die instelling van Landboubestuurspraktyk. Hierdie nuwe vak rus leerders toe met noodsaaklike vaardighede in boerderybestuur en produksie, wat uiters waardevol is vir ons landbou-gedrewe gemeenskap.
Beste Ooit
Die matrieks van 2025 het die uitsonderlike prestasie behaal om in die 29 jarige bestaan van die skool die top prestasie van 72.3% gemiddeld te behaal.
Graad RR
KPS brei sy pre-primêre fase uit met die instelling van 'n Graad RR-klas. Hierdie nuwe toevoeging bied aan ons jongste leerders die ideale geleentheid om hul skoolloopbaan speel-speel in 'n geborge en stimulerende omgewing te begin.